"WAAR SIT JY?" Ds. Iwana Kruger
Goeie more broers en susters, ‘n Hartlike welkom aan almal van u vanoggend, beide dié wat saam met ons hier teenwoordig is en sit in die huis van die Here, asook aan almal wat aanlyn inskakel om ook op só ’n manier deel te kan wees van vanoggend se erediens. Julle is almal baie welkom. Geliefdes, vanoggend trek God die stoel uit vir jou by Sy koninklike feesmaal, mag elkeen van ons die vrymoedigheid beleef om ons sitplek in te neem. “Ek sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham,
Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel.” Matteus 8:11 bevat ’n voorsmaak van die koninkryk van God en hoe ons kan aansluit by die koninklike feesmaal van God. ’n Feesmaal waar Abraham, Isak en Jakob saam ons aan tafel gaan sit. ’n Feesmaal waar ’n stoel vir elkeen van ons uitgetrek word, die vraag is gaan ons dié sitplek inneem? Gemeente, genade en vrede kom vir julle van God onse Vader, van Jesus Christus ons Here, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Jesus is aan die woord in Lukas 14:12-14 waar Hy ’n gelykenis vertel aan die Fariseërs en ander aanwesig. Christus probeer deur middel van ’n maaltyd gelykenis vir gelowiges leer dat ons omarmend moet wees en dat hierdie inklusiwiteit nie bepaal moet word deur ons eie aardlikse waardesisteme nie. Jesus probeer vir ons as gelowiges leer dat selfs dié wie deur die samelewing verwerp word, deur ons omarm moet word. Dat ons dieselfde asvryheid moet uitoefen teenoor ander soos Jesus teenoor ons betoon. Kom ons lees dit nou saam: Hy (wat nou Jesus is) het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand ‘n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. Nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. 14
Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.” En alhoewel hierdie ’n manier is van van hoe ons in die voetspore van Jesus kan volg weet ons dat ons dit nie altyd reg kry nie. Elkeen van ons kan vanoggend bely dat ons soms ander dikwels uitsluit inplaas van om hul te omarm. Dat ons nie altyd dieselfde gasvryheid wat ons vanaf God ontvang aan ander betoon nie. Daarom bring dié erkenning van ons tekortkominge ons tot skuldbelydenis. Ons sing nou saam Gesang 510, strofe een tot vier, as skuldbelydenis waarna ons bly staan om ’n gebed op te dra aan ons God en Gasheer.
Epiklese gebed
Heilige en Almagtige God, ons kom vanoggend voor U en sluit vanoggend die gedruis van ons besige lewe uit en plaas ons fokus op U. Gasheer van ons lewe, ons kom vanoggend voor U en word stil. Ons word stil en weet dat U die Heer is. ’n Here wat sorg vir klein, vir groot, vir alles en U sorg dag na dag vir my, u kind. En daarom vra ons vanoggend dat U ons in u versorgende en leidende hande sal neem soos wat ons u Woord vanoggend lees en probeer toepas in ons daaglikse lewe. Ons vra vanoggend dat U aan ons die selfvertroue sal skenk om ons sitplek by u tafel reeds hier op aarde in te neem maar ook dat U ons sal lei in die manier waarop ons hierdie sitplek kan inneem. Ons bely dat ons soms wegskram van dié voorreg van ’n sitplek by u tafel maar dat ons hierdie voorreg en verantwoordelikheid opnuut vanoggend wil aanvaar en ons roeping as u kinders uitleef. Ons dank U vanoggend vir die uitnodiging wat U self en ook deur u diensknegte aan ons verkondig. Ons bid vanoggend dat u koningheerskappy gevestig sal word reeds hier op aarde en dat u ryk mag kom. Neem ons en lei ons as u volgelinge om te help aan die uitbou van die koninkryk van God met ons eie unieke bydrae. Here, hoor hoe ons U aanroep vanoggend, daar's fees, ek is weer tuis. Laat ons gebed vanoggend opklink saam die Kerk van alle eeue: Hoe heerlik, Heer, u grote Naam!
Amen.